Artikel deur Samarie Smith
© Die Burger Saterdag 6 Augustus 2011
Die gehalte van wyn is belangrik. Maar nóg belangriker is hoe so natuurlik moontlik jy daarby uitkom. Samarie Smith het op die Avondale-wynplaas gaan inloer om meer oor dié wynmakers se interaksie met moederaarde te leer.
Organies is vir baie mense nog net ’n gonswoord, maar die neiging dat wynplase wêreldwyd meer na holistiese alternatiewe kyk waarmee hulle volhoubaar in harmonie met die natuur kan werk, word al hoe sterker.
Wanneer jy by die Avondale-landgoed indraai, word jy met sy etos, “terra est vita”, op die wit muur begroet. Dit beteken “grond is lewe”; die dinamiese, lewende sisteem waar Avondale se verbintenis tot die maak van natuurlike kwaliteitwyn begin.
“Daar is geen handleiding wat vir jou die presiese resep gaan gee oor hoe om die ideale balans in jou wingerd te handhaaf sodat dit optimaal funksioneer nie,” vertel Johnathan Grieve, eienaar. “Ons moes leer om na die natuur te luister en maniere naboots waarop die ekosisteem homself onderhou.”